top of page
Search

Aspekte om in gedagte te hou wanneer ’n mediesefondsopsie gekies word

Die jaar 2020 sal bekend staan as die jaar van die koronavirus – ’n jaar van groot onsekerheid en beproewinge; ’n jaar waarin baie mense se salarisse verminder is, of indiensname beëindig is; ’n jaar waarin baie mense nie hulle mediesefondspremies kon bybring nie. Dit was juis die jaar wat ’n mediese fonds ’n noodsaaklikheid was en steeds is. Met hierdie skrywe gaan ons probeer verduidelik wat in gedagte gehou moet word met die keuse van ’n nuwe opsie, of watter opsieverandering oorweeg moet word. Ons gaan hierdeur probeer help om die finansiële druk ’n bietjie ligter te maak ná ’n finansieel-uitmergelende jaar.

Dit is belangrik om ’n mediesefondsopsie te kies wat by jou unieke omstandighede gaan pas, met inagneming van ’n paar faktore, soos


· Die tipe dekking wat jy gaan benodig.

· Jou huidige gesondheidsbehoeftes, vorige behandeling en koste.

· Bekostigbaarheid.

· Uitsluitings van toepassing op ’n gegewe opsie.

· Die skema se prestasie tot dusver.


Die tipe dekking wat jy gaan benodig

Hoe meer voordele jy verlang, hoe duurder gaan die mediese fonds word. Jou eerste stap is om ’n plan te kies wat aan die meeste van jou behoeftes gaan voldoen.


Daar is tans verskillende opsies op die mark. Die grootste besluit gaan egter wees om onderskeid tussen binne- en buitehospitaalvoordele te tref.


· Enige mediese fonds dek gewoonlik 100% van die mediesefondstariewe (MFT) vir prosedures binne die hospitaal. Mediese fondse word duurder hoe meer buitehospitaalvoordele (dag-tot-dag-voordele) hulle verskaf.

· Buitehospitaalvoordele kan enigiets wees van doktersbesoeke tot spesialiskonsultasies, besoeke aan tandartse, oogartse ens. – dus enigiets wat buite die hospitaal gebeur.


Voorbeelde van fondse wat beskikbaar is en ’n kort oorsig oor elkeen

Hospitaalplanne – Hierdie opsie sal jou slegs die voordeel laat geniet vir prosedures binne ’n hospitaal; enigiets buite die hospitaal is vir jou eie sak.

Nuwegenerasie-opsies – Dit is ’n hospitaalplan met ’n spaargedeelte wat bygevoeg is. Die spaargedeelte kan vir enige buitehospitaaluitgawes gebruik word. ’n Voordeel is dat die spaargeld wat nie deur die jaar opgebruik word nie, na die volgende jaar oorgedra word.

Tradisionele planne – Jy het steeds binnehospitaalvoordele, maar jou dag-tot-dag-voordele word na aanleiding van jou gekose opsie tot op sekere limiete betaal. Jou limiete word aan die begin van elke jaar weer herstel.

Omvattende planne – Jy het binnehospitaalvoordele en ’n spaarkomponent. Sodra die spaarkomponent uitgeput is, kry jy bodrempelvoordele met ’n randwaarde daaraan gekoppel.

Inkomstegebaseerde opsies – Jy kry dekking volgens die inkomste wat jy verdien. Daar is verskillende inkomstebande waarin lede ingedeel kan word. Hierdie tipe opsies maak hoofsaaklik van netwerke gebruik om die koste so laag moontlik te hou.


Tref onderskeid tussen netwerk- en nienetwerkopsies


Met netwerkopsies moet jy van die skema se netwerke gebruik maak om bybetalings te vermy. Netwerkopsies is goedkoper as nienetwerkopsies.


Met nienetwerkopsies het jy vryheid van keuse. Met die netwerkopsies kan die lede egter slegs sekere hospitale vir beplande prosedures gebruik. Indien dit ’n noodgeval is, kan jy na die naaste hospitaal gaan sonder dat jy ’n bybetaling moet maak.


Neem kennis dat die definisie van ’n noodgeval van fonds tot fonds kan verskil.


Jou huidige gesondheidsbehoeftes, vorige behandelings en koste


Begin deur te weet watter voordeel jy gaan benodig deur jou vorige hospitaalopnames, spesialisbesoeke, en tandheelkunde- en oogartskoste in ag te neem. Jy sal dan min of meer weet waarna om in die mark te kyk. Dit is baie belangrik om ook jou chroniese siektetoestande in ag te neem.


Alle mediese fondse, maak nie saak of dit die goedkoopste opsie is nie, moet die volgende 26 chroniese siektetoestande dek:

CDL 1 Addison se siekte (Addison's disease)

CDL 2 Asma (asthma)

CDL 3 Bipolêre gemoedsversteuring (bipolar mood disorder)

CDL 4 Brongiëktase (bronchiectasis)

CDL 5 Kardiomiopatie (cardiomyopathy)

CDL 6 Chroniese niersiekte (chronic renal disease)

CDL 7 Chroniese obstruktiewe longsiekte (chronic obstructive pulmonary disease, COPD)

CDL 8 Hartversaking (cardiac failure)

CDL 9 Koronêre arteriesiekte (coronary artery disease)

CDL 10 Crohn se siekte (Crohn's disease)

CDL 11 Diabetes insipidus

CDL 12 Diabetes mellitus tipe 1

CDL 13 Diabetes mellitus tipe 2

CDL 14 Disritmie (dysrhythmias)

CDL 15 Epilepsie (epilepsy)

CDL 16 Gloukoom (glaucoma)

CDL 17 Hemofilie (haemophilia)

CDL 18 Hiperlipidemie (hyperlipidaemia)

CDL 19 Hipertensie (hypertension)

CDL 20 Hipotiroïdisme (hypothyroidism)

CDL 21 Meervoudige sklerose (multiple sclerosis)

CDL 22 Parkinson se siekte (Parkinson’s disease)

CDL 23 Rumatoïede artritis (rheumatoid arthritis)

CDL 24 Skisofrenie (schizophrenia)

CDL 25 Sistemiese lupus eritematose (systemic lupus erythematosus, SLE)

CDL 26 Ulseratiewe kolitis (ulcerative colitis)


Indien jou chroniese siektetoestand nie hierbo gelys is nie, moet jy na planne kyk wat dit wel dek. Hoe omvattender die mediesefondsopsies word, hoe meer nie-CDL-siektetoestande dek dit.


Gesonde persone kan oorweeg om net ’n hospitaalplan uit te neem en dag-tot-dag-uitgawes uit hulle eie sak te betaal. Die keuse van ’n mediese fonds hang grootliks van jou gesondheid af. Onthou altyd dat dit beter is om dekking te hê as geen dekking nie.


Bekostigbaarheid


Dit is baie belangrik om te verstaan wat jy kan bekostig. Goedkoper opsies gaan nie soveel dekking bied soos duurder opsies nie. Daar is baie opsies op die mark, jy moet net die een kry wat teen ’n bekostigbare prys by jou behoeftes gaan pas. Jy moet net jou mediese fonds ook reg bestuur om die meeste waarde daaruit te kry. Dit is dus belangrik om jou huiswerk te doen, en regtig te verstaan wat jou mediesefondsopsie jou bied. Jy moet die meeste waarde uit jou gekose opsie kry. Bitter min mense gebruik byvoorbeeld hulle voorkomende voordele of registreer hulle chroniese siektetoestande. Jou mediese fonds kan baie meer waarde toevoeg as om dit net vir noodgevalle te gebruik.


Uitsluitings van toepassing op ’n gegewe opsie

Enige mediese fonds het uitsluitings, dis net dat sekere opsies meer uitsluitings as ander opsies het. Dit is dus baie belangrik om seker te maak wat jou opsie gaan betaal, en nie gaan betaal nie.


Die inkomstegebaseerde-opsies het byvoorbeeld meer uitsluitings as ’n gewone hospitaalplan by dieselfde mediese fonds.


Wees bewus hiervan, en maak ’n punt daarvan om die skema se reëls goed te lees en advies in te win en/of duidelikheid te ontvang.


Skema se prestasierekord

Dit is ’n belangrik aspek om ’n skema se geskiedenis in ag te neem. Jy kan uitvind of ’n skema se betaling van eise op standaard is deur jou huisdokter te raadpleeg en/of die internet nader te trek om te kyk of daar al enige klagtes oor die mediese fonds ontvang is.


Mediese skemas moet ook 25% van lede se bydraes in reserwe hê, sodat daar altyd genoeg fondse in reserwe is om eise te betaal indien daar ’n pandemie of iets soortgelyks uitbreek. Dit is ook belangrik om te kyk hoeveel lede ’n skema het en wat die gemiddelde ouderdom van die lede is. Dit gaan ’n skema met baie lede nie so seermaak soos ’n skema met minder lede, indien 1 000 lede op een slag bedank nie.


Hierdie is maar net ’n paar van die faktore wat in ag geneem moet word indien jy besluit om aan te sluit by ’n mediese fonds wat jou belange in ag kan neem.


Dit is altyd makliker om van ’n makelaar gebruik te maak indien daar na ’n mediesefondsopsie gesoek word. Makelaars werk elke dag met mediese fondse, en uit ondervinding weet hulle waarna om te kyk. Die makelaarsgelde gaan ook nie enigsins ’n verskil maak aan die huidige premie wat jy betaal nie. Makelaarsgelde is reeds by die mediesefondspremie ingesluit.


Kontak ons gerus om meer duidelikheid te kry oor mediesefondsopsies wat nie net jou sak sal pas nie, maar ook aan jou behoeftes sal voldoen.

Ons kan ook help met enige probleme wat met eise en die administrasie van jou mediese fonds verband hou.

Ons bied ook gapingsdekking vir enige onvoorsiene uitgawes wat die mediese fonds nie inhospitaal dek nie.


Mediesefondsgroete


Dirk Conradie

219 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page